Openbare Kennisgewing - Elkeen het 'n Keuse

by

ZUID-AFRIKAANSCHE BOER REPUBLIEKE

TYDELIKE ADVIESRAAD

20 Februarie 2026

Verw. #: ZAB_Ken_002

Aan: Die Zuid-Afrikaansche Boervolk en ander belanghebbendes in SA.

Onderwerp: ELKEEN HET ‘N KEUSE.

‘n Skrywe aan volksgenote wat soekend is en agslaan op dít wat besig is om rondom hul te gebeur.

ELKEEN HET ‘N KEUSE:

Of ek AANVAAR en ek bly betrokke, óf ek VERWERP en ek onttrek, is ‘n keuse wat op elkeen se lewensbaan kom omdat daar gereeld situasies is wat 'n keuse afdwing: aanvaar ek die situasie en leef ek daarin voort, of verwerp ek dit en onttrek ek myself? Dieselfde omstandighede word deur een aanvaar en deur die ander verwerp.

  1. Is dit verdeeldheid?
  2. Is die een reg en die ander verkeerd?
  3. Wat maak dat die een gebeure aanvaar terwyl die ander dit verwerp?

Kyk na Europa in die 17de eeu: Wat het sommige laat bly en selfs deel laat word van die vervolging, terwyl ander dit verwerp en gevlug het? Dieselfde het in die 18de en 19de eeu in die Kaap en weer in die Oos-Kaap gebeur. Die een het die situasie aanvaar en dit ondersteun, terwyl juis dít die ander laat onttrek het.

Vandag, in die 21ste eeu, staan ons voor presies dieselfde keuse. Die een aanvaar die huidige bestel en probeer daarin funksioneer en vorm deel daarvan, terwyl die ander dit verwerp en daarvan wil onttrek.

Hierdie twee keuses het in die verlede natuurlike skeiding én eenheid veroorsaak. En dit sál weer gebeur. Dit is onvermydelik – eenvoudig omdat nie almal dieselfde keuse maak nie. Dit is soos water en olie in een houer: geskud lyk dit gemeng, maar laat dit rus en die natuurlike skeiding word duidelik sigbaar. Die twee vloeistowwe skei tot hul eie natuurlike oorsprong.

Presies dit gebeur nou weer. Die "water" en die "olie" wat die afgelope eeue deurmekaar geskud is, is besig om van nature te skei. Wat veroorsaak die skeiding? Die verskillende eienskappe – die beginsels – van die één teenoor dié van die ander.

Dit is nie 'n kwessie van wie reg of wie verkeerd is nie, want albei is sekerlik oortuig hulle is reg. Dit is 'n kwessie van beginsels wat keuses bepaal. Namate die eenheid binne elk groep groei, word die polarisasie al hoe duideliker.

Voorbeelde vanuit ons geskiedenis:

  1. SKEIDING (nie verdeeldheid nie) het veroorsaak dat die Boer se voorgeslagte uit Europa onttrek het.
  2. SKEIDING het veroorsaak dat die Boer se voorgeslagte uit die Kaap getrek het.
  3. SKEIDING het veroorsaak dat die Boer se voorgeslagte uit die Oos-Kaap getrek het.
  4. SKEIDING het veroorsaak dat die Boer se voorgeslagte as “Rebelle” uit die Kaap en Natal, die hoogste prys betaal het om hul broers en susters in die OVS en ZAR te gaan ondersteun met dié strewe om die onwettige Britse regering ook in hul republieke te stop.

En so kan ons aangaan... Nou het skeiding die vloekwoord “verdeeldheid” geraak en is dit ewe skielik ‘n probleem vir ‘n sekere agenda! As hierdie SKEIDING (“verdeeldheid”) dan vir u ‘n probleem is, dan moet dit wat vanuit Europa, die Kaap en ook die Oos-Kaap gebeur het ook vir u nie aanvaarbaar wees nie en is die ontstaan van die Boervolk vir u ook ‘n probleem. Dan is u sekerlik nie deel van die Boervolk nie.

Daar is ‘n natuurlike skeiding én eenheid besig om te vorm, wat SAMEHORIGHEID veroorsaak tussen EENSDENKENDES wat op die ou end EENSGESIND sal wees. Net soos in Europa, die Kaap, die Oos-Kaap ens. NIEMAND sal hierdie SKEIDING kan teenstaan nie. Al wil hulle ook hoe graag en al klink hul boodskap ook hoe wonderlik. Die Almagtige Hemelse Vader is besig om daardie SKEIDING te bring, net soos Sy Hand in Europa, die Kaap, die Oos-Kaap en tans nou hier ook sigbaar is.

Die Messiah self sê Hy het gekom om verdeeldheid te bring, maar dit is die ZABR se werk om diegene wat in Sy BEGINSELS leef, wat dalk onder misleiding verkeer, in liefde in EENHEID SAAM TE VOEG.

Kyk maar rondom u: 'n natuurlike polarisasie is aan die gebeur – nie omdat die een reg en die ander verkeerd is nie, maar omdat hulle van nature verskil. Die vraag is: Waar plaas u beginsels u in hierdie proses? By die "water" of by die "olie"?

Die kaf en die koring word deur 'n Hoër Hand geskei. Dit is dus nie verdeeldheid nie – dit is 'n samevoeging van dié wat bymekaar hoort tot ‘n eenheid. Moenie die leuen van "verdeeldheid" meer verder glo en dit soos die rassisme kaart gebruik net wanneer dit die agenda pas nie. Kyk daarna as ‘n Skeiding wat deur ‘n Hoër Hand bewerk word.

Die lewende Boervolk, kollektief verenig onder die Zuid-Afrikaansche Boervolk (ZAB) en geadministreer deur die Zuid-Afrikaansche Boer Republieke (ZABR), is die eenheid van dié wat op grond van eensgesinde Skriftuurlike beginsels, die huidige Babiloniese bestel verwerp.

Die ZAB verwerp:

  1. onwettige en vreemde oorheersing deur volksvreemdes;
  2. die slawerny waaronder ons deur bedrog geplaas en oorgelewer word;
  3. die misleiding (politiek, sekulêr, medies, finansieel, geregtelik) wat probeer om die onvermydelike skeiding te verdoesel;
  4. gedwonge integrasie en assimilasie met ander groepe wat die Boervolk van haar identiteit en volkseie regte beroof;
  5. die verdrukking van minderheid volkere deur demokratiese oorheersing van die meerderheid;
  6. die ongeregtigheid en wetteloosheid wat oor ons gekom het as gevolg van ons eie afvalligheid; en
  7. alles wat in teenstelling is met die Almagtige se volle Woord, want Sy Woord is waar en staan vas vir dié wat daarop bou.

Hierdie verwerping sal deur die wêreld as vyandskap gesien word – soos daar tog geskryf staan. Wêreldvrede is 'n valse illusie. Ware vrede sal eers heers wanneer die Koning kom om van Sy vyande, 'n voetbank te maak en te regeer oor dié wat in Sy beginsels leef.

Die ZAB se enigste strewe is om ons Almagtige Hemelse Vader te soek, sodat sy vir Hom 'n volk kan wees soos wat en waar dit Hom behaag. Dan sal die res van nature polariseer en in plek val soos dit hoort. Solank die ZAB Hom opreg dien, vrees en behaag deur vir Hom 'n afgesonderde volk te wil wees.

Elkeen staan nou voor hierdie keuse:

Waar voeg ek myself – by dié wat die stelsel aanvaar en daarbinne ‘n “oplossing” soek, of by dié wat dit in totaliteit verwerp en glo aan die opdrag “Kom uit haar uit My volk”?

Hierdie moet nie as veroordelend, aanvallend of beskuldigend beskou word nie, maar eerder ‘n liefdevolle uitnodiging tot selfondersoek.

Hiermee wil die ZABR ook hul standpunt rakende die Afrikaner vs. Boer debatte aanspreek. Soos hierbo uiteengesit erken die ZABR dat daar altyd verskillende groeperings sal wees, van nature, en dat eenheid ook nie kan bestaan wanneer beginsels verskil nie. Dus, die ZABR gaan nie sê dat Boere wat mislei is en dink dat hulle “Afrikaners” is, nie welkom is nie aangesien dit gaan oor in watter beginsels daar gewandel word. Dit is die ZABR se plig om die beginsels waarop die ZAB staan, uit te spel sodat elkeen vir hulself die KEUSE kan maak waar hul hulself wil voeg. Terselfdertyd wil die ZABR dit ook BAIE duidelik stel dat daar ook sogenaamde “Boere” is wat nie in hierdie beginsels wandel nie, dit is elkeen se vrye keuse.

Die ZABR het ontstaan a.g.v. ‘n volk aksie vanuit Boervolk geledere. Dit is ‘n feit wat oor tyd al bevestig is dat die Afrikaner nooit ‘n volk kan wees en ook nog nooit as een internasionaal erken was nie, terwyl die Boervolk deur die Hoogste Gesag as ‘n volk aangehoor EN verhoor was; feite wat deur baie aanvaar sal word terwyl die meerderheid dit weer sal verwerp. Dus gaan die ZABR nie betrokke raak in “Afrikaner” vs. “Boer” debatte nie, elkeen besluit vir hulself waar om in te skakel volgens hul beginsels.

Assimilasie en integrasie van verskillende groepe ontneem egter die Boervolk van haar identiteit en uniekheid en gevolglik ook haar volkereg. Die ZABR fokus op die beginsels wat aan ons voorgeslagte hul bestaansreg en volkereg gegee het, Skriftuurlike beginsels en om daarvolgens weer vir Hom ‘n volk te wees. “My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis!

BOERVOLK, het jy al ontwaak? “Daar sal ‘n geringe oorblyfsel wees wat by My Naam skuiling soek! Daardie geringe oorblyfsel sal hulself ook moet afskei op grond van hul beginsels. Beginsels soos die volgende wat sekerlik SKEIDING sal bring:

  • Sommige roem op perde, ander op strydwaens, maar óns sal roem op die Naam van onse Almagtige Hemelse Vader. (Psm.20:8)
  • Ons roem nie op ons voorgeslagte nie aangesien ons erken dat Vader vanuit klippe vir Hom ‘n volk kan bou. (Mat.3:9)

Die ZAB nooi haar ouers, boeta’s, sussa’s, neefs, niggies, ooms en tannies met liefde uit: Kyk ernstig na die ZAB se beginsels en as u uself by die ZAB se beginsels kan voeg, sal u met ope arms en in opregte broederliefde in die ZABR verwelkom word. Besoek gerus ons webblad www.zaboervolk.com of stuur vir ons ‘n epos na [email protected] vir verdere besonderhede.

Alle eer aan ons Almagtige Hemelse Vader.

Vriendelike Boer Groete

Die Tydelike Adviesraad.