NUUSFLITS - 19 Sep. 25

Wat het alles gebeur sedert die bekragtiging van die ZAB Deklarasie van Onafhanklikheid ?

 

Op 6 Augustus 2025 is die Zuid-Afrikaansche Boervolk se Deklarasie van Onafhanklikheid finaal bekragtig deur 118 volksgenote (65 mans, 53 vroue, insluitend 11 kinders) regdeur die land oor ’n afstand van byna 7 000 km. Hierdie geskiedkundige gebeurtenis, soortgelyk aan Amerika se onafhanklikheidsverklaring in 1776, weerspieël die Boervolk se kollektiewe wil na vryheid, eenheid en geloof in die Almagtige Hemelse Vader. Alhoewel meer volksgenote die deklarasie sou ondersteun met groter bewusmaking en tyd, beklemtoon die bekragtiging ’n gedeelde strewe na soewereiniteit, Bybelse beginsels en die nakoming van die Boervolk se Geloftes aan haar Almagtige Hemelse Vader; om vir Hom ‘n Huis te stig!

Die deklarasie, wat deur bekragtiging dien as 'n mandaat, word gedra deur eenheid in waarheid, met Boervolk volksgenote wat reeds vir hulself brandpaaie teen misleiding en verraad vanuit onder andere die kerk, politiek, staat en die mediese industrie gekap het. Hulle het hul status herstel van kerk na gemeente (92%), van dooie entiteit na lewende siel (76%), en ’n standpunt teen verdrukking, slawerny, oorheersing en vreemde beheer (99%) ingeneem. Die pad vorentoe behels selfbeskikking en die stigting van ’n Volksraad, met eenheid in geloof as die hoeksteen. Enige verdeling, verbintenis aan volksvreemde en/of geheime organisasie, nasionale- of internasionale agente  of persoonlike agendas, word as struikelblokke beskou wat die volk se vryheid en soewereiniteit ondermyn en mag nie geduld of toegelaat word nie.

Op 24 Augustus 2025 is ‘n Tydelike Adviesraad, bestaande uit ‘n Voorsitter, Onder Voorsitter, Sekretaris-Generaal, Regsadviseur, Tesourie en Algemene Verteenwoordigers is op die been gebring om administratiewe sake van die ZAB en ZABR te hanteer. Die TAR se doelstelling sluit in maar is nie beperk tot: Berei die grondslag voor vir die formele Volksraad en 'n Uitvoerende Raad; Om ‘n Huis (Volk) vir ons Almagtige Vader te stig.

Die ZABR Volkshof is ook verklaar om die Zuid-Afrikaansche Boervolk se gemene-, gewoonte- en natuurlike reg te beskerm. ’n Volkskonsulaat is aangewys vir internasionale kommunikasie. Die TAR werk deeglik om wetlike en administratiewe prosesse te finaliseer, met volksbetrokkenheid wat noodsaaklik is vir sukses. Die Boervolk word opgeroep om aktief deel te neem aan hierdie vrywordingsproses, met ALLE vertroue in die Almagtige se leiding om vir Hom ’n volk te wees tot eer van Sy Grootte Naam.

Weet verseker dat daar volksgenote in die stilte hard besig is om baie moeite en tyd in te sit om te verseker dat ons volksake hul doel bereik. Ons span is toegewyd en glo in dit wat ons doen.