
FORMELE REAKSIE
by ZABR Admin

ZUID-AFRIKAANSCHE BOER REPUBLIEKE
TYDELIKE ADVIESRAAD
22 Maart 2026 Verw. #: ZABR/REAKSIE-ZAR/001
Aan: Die ZAR Tribunaal en ZAR Streekvergadering; Boervolk-volksgenote en ander belanghebbendes in SA.
Onderwerp: FORMELE REAKSIE OP OPENBARE WANVOORSTELLING GEMAAK DEUR DIE ZAR BOERVOLK (Volledige ZAR plasing soos op Facebook en Telegram op 21 Mrt 26 geplaas: https://www.facebook.com/reel/3904975949794201)
Ons het opreg gehoop dat elke groepering wat hulself vir die Boervolk beywer, sal saamwerk wanneer die tyd dit vereis. Dit is daarom jammer dat die ZAR se negatiewe repliek en waarskuwing aan volksgenote om hulle nie met die Zuid-Afrikaansche Boervolk (ZAB) te verbind nie, eerder verdere verdeeldheid openbaar as opregte volksdiens.
Dit is juis hierdie gees van verdeling, wantroue en openbare afbreek wat die Boervolk oor jare heen verswak het. In ’n tyd waarin daar ernstig en met gebed gewerk word aan die toekoms, veiligheid en voortbestaan van ons volk, behoort sulke optrede elkeen tot nadenke te bring.
Die ZAR se aantygings is op rekord geneem en voor ons Hemelse Vader gelê. Ons vertroue bly nie in mense se oordeel nie, maar in Sy waarheid, geregtigheid en leiding.
Soos geskrywe staan: “Geseënd is julle wanneer mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek ter wille van My Naam.”
Ons neem nie openbare aanvalle as ’n rede tot afwyking nie, maar as bevestiging dat die pad van waarheid dikwels teëstand ontlok. Ons bid dat elkeen wat hierdie saak verkeerd verstaan of verkeerd voorstel, nog die waarheid sal besef.
Die Zuid-Afrikaansche Boer Republieke (ZABR) se Tydelike Adviesraad (TAR) wys enige openbare verdraaiing, belediging en wanvoorstelling van die hand. Ons vergeld nie kwaad met kwaad nie. Ons staan by waarheid, rekord, goeie trou en ’n vreedsame en regmatige bevestiging van die Boervolk se identiteit, waardigheid en toekoms.
Waar daar opregte verskille bestaan, behoort dit eerbaar, reguit en met verantwoordelikheid hanteer te word, nie deur openbare afbreek van volksgenote nie.
Ons dra kennis van hierdie plasing deur die ZAR Tribunaal waarin verskeie wanvoorstellings oor die ZABR, TAR en sekere individue gemaak word.
In plaas van ’n emosionele debat, het ons ’n amptelike, feitelike en vredeliewende antwoord opgestel wat die rekord herstel en ons posisie duidelik uitdruk.
Lees gerus die Tydelike Adviesraad se volledige reaksie hier: ZABR/REAKSIE-ZAR/001
Ons bly in gebed vir eenheid onder die Boervolk en pleit by die Almagtige Hemelse Vader om waarheid en geregtigheid te laat geskied, om diegene bymekaar te bring wat bymekaar behoort.
Mag Hy ons lei.
Tydelike Adviesraad van die ZABR
